Dr W J Grobler BVSc
Aangesien baie aspekte van kraam by honde en katte dieselfde is, word dit hier saam behandel. Indien daar wel verskille sou voorkom, sal dit duidelik uitgespel word.
Draagtyd in huisdiere is ongeveer 63 dae, maar die tyd kan so kort as 58 dae in sekere katrasse wees en in groter honderasse mag die tyd met soveel as 5 dae oorskry word. Die periode tydens hitte waarin honde vrugbaar is strek egter oor ‘n paar dae en dit is dus nie altyd moontlik om ‘n presiese verwagte datum te bepaal nie.
Om te bepaal of ‘n dier wel dragtig is, word ‘n buikondersoek gedoen, gewoonlik drie weke na dekking. Die ondersoek is ongelukkig moeilik in groot, vet of gespanne honde, waar ‘n sonarondersoek dan gedoen kan word om uitsluitsel te kry.
Teen ses weke begin die wyfie se buik vinnig uitsit en die melkkliere ontwikkel opsigtelik. Haar eetlus neem toe en sy begin al traer te beweeg met die al groterwordende buik. Veral klein rasse mag baie ongemaklik voorkom teen die einde van dragtigheid.
Ongeveer 24 uur voor kraam weier meeste wyfies om te eet en begin hulle ‘n geskikte plek soek om die kleintjies te kry (gewoonlik ‘n heel ander plek as wat die eienaar in gedagte het!). Hondjies wat baie aandag van die eienaar kry sal nou eers baie aandag soek.
Die kraamproses bestaan uit drie dele waarvan die tweede en derde gewoonlik kort op mekaar volg in huisdiere:
1. Verwyding van die baarmoedernek (serviks)
2. Geboorte van ‘n kleintjie
3. Uitwerp van die nageboorte (plasenta)
Gedurende die eerste fase kom die wyfie baie ongemaklik voor as gevolg van sametrekkings van die baarmoeder wat dikwels deur die buikwand waarneembaar is. Hierdie fase kan ‘n geruime tyd duur (selfs ‘n paar uur) en die eienaar moet dit nie met die ware kraam verwar nie — daar is baie min afskeiding van vog in hierdie stadium en die moeder sal nog nie aktief druk nie. Dit is baie belangrik dat die moeder so rustig as moontlik moet wees — moenie sigbaar opgewonde raak en/of hard praat naby haar nie.
Met die aanvang van die tweede fase begin die eerste kleintjie deur die baarmoedernek na buite beweeg, tensy die kleintjie heeltemal te groot is. Die moeder sal nou met alle mag beur om die kleintjie deur die geboortekanaal te help.
Op een of ander tyd na die aanvang van dié fase sal ‘n klompie helder vloeistof afgeskei word. Na etlike minute (tot so lank as ‘n halfuur met eerste kleintjies) sal óf ‘n donker blasie óf ‘n liggaamsdeel van die kleintjie verskyn. Op hierdie stadium moet daar redelik gou vordering wees, anders sal die kleintjie versmoor. Indien u op enige tydstip onseker is van die toedrag van sake, skakel u veearts vir raad.
Nadat die kleintjie gebore is behoort die moeder die sakkie wat daaroor is stukkend te byt en die kleintjie skoon te lek. In diere wat die eerste keer kraam gebeur dit soms nie en moet die eienaar ingryp deur die sakkie oor die diertjie se kop los te skeur en dan van die lyfie af te trek. ‘n Gesonde, sterk kleintjie sal dadelik begin wriemel en kort voor lank diep teue trek.
Kort na die geboorte sal die nageboorte uitgewerp en deur die moeder verorber word. Hierdie is die derde fase van die geboorteproses. Indien sy nie die naelstring deurbyt nie, kan dit met skoon gare afgebind word omtrent 5mm vanaf die kleintjie se buik en dan met ‘n ontsmette skêr aan die nageboorte se kant afgeknip word.
Die moeder sal ‘n bietjie rus en dan die volgende outjie op sy tog aanhelp. In die meeste gevalle sal ‘n tyd van ongeveer ‘n halfuur verloop tussen kleintjies, behalwe as die moeder reeds ‘n hele paar babatjies het — dan mag sy ‘n hele paar uur rus om moed bymekaar te skraap vir die res.
WANNEER moet ek die VEEARTS skakel?
1. As die teef deur ‘n baie groot reun gedek is, of as sy ‘n geskiedenis van moeilike kraam het.
2. As daar ‘n donker groen vloeistof afgeskei word sonder dat die moeder binne ‘n halfuur vorder.
3. As die moeder vir langer as ‘n halfuur druk sonder dat daar vordering is.
4. As daar ‘n bloederige afskeiding is voor die verwagte kraamdatum.
5. As daar ‘n slegruikende afskeiding is moet daar so gou moontlik opgetree word — die kleintjies is reeds dood en die moeder se lewe is in gevaar.
6. As die moeder te enige stadium ophou met eet of swak eet gedurende die dragtigheid — dit mag dui op ‘n siekte soos bosluis- of bosluisbytkoors wat ‘n aborsie kan teweegbring.
NB: Pasop vir die toedien van voorbehoedmiddels, veral as die teef reeds op hitte is!! Dit kan lei tot lewensgevaarlike infeksie van die baarmoeder en selfs tot die verlenging van dragtigheid verby nege weke terwyl die kleintjies reeds binne die moeder afgesterf het.
Bron: http://www.proteaanimalclinic.co.za/Siektes/kraam.htm