Your browser version is outdated. We recommend that you update your browser to the latest version.

BOSLUISKOORS

BOSLUISKOORS BY HONDE
Inleiding
1. Bosluiskoors, ook genoem galkoors, is die siekte wat die meeste hondevrektes in Suid-Afrika veroorsaak. Bosluiskoors word veroorsaak deur die organisme Babesia canis rossi en word deur die geelhondehokbosluis oorgedra.
2. Daar is egter verskeie ander bosluisspesies van belang wat bosluiskoors en bosluisbytkoors aan honde kan oordra.
3. Die drie belangrikste bosluise vir die hond is:
a. Die geelhondebosluis “Haemaphysalis elliptica”, wat bosluiskoors kan oordra, terwyl
b. Die hondehokbosluis of “Rhipicephalus sanguiness“ beide bosluiskoors en bosluisbytkoors oordra, en
c. “Rhipicephalus simus”, die blinkbruinbosluis, wat bosluiskoors (Babesia canis rossi) aan honde oordra en bosluisbytkoors (Rickettsia conorii) aan die mens.
4. Verskeie ander bosluissoorte dra bosluiskoors aan die mens oor. Hulle is:
a. Die bontbosluis
b. Die geelhondehokbosluis
c. Die groot bontpootbosluis
d. Die bruinoorbosluis
e. Die rooipootbosluis
f. Die hondehokbosluis
g. Die blinkbruinbosluis
Bosluiskoors in die praktyk
Baie veeartsenypraktyke noem dat bosluiskoors die belangrikste siekte is van honde en wys daarop dat duisende honde jaarliks hieraan sterf en dit is ook die siekte waaraan troeteldiereienaars die meeste geld spandeer.
Die troeteldier eienaar se optrede: Voorkoming van bosluiskoors is natuurlik die beste oplossiong.
Siektetekens van bosluiskoors
Voordat mens oor siektetekens praat, is dit belangrik om te onthou hoe vinniger die hond by die veearts kom, hoe minder kos die behandeling en is enige dier se kans om te oorleef net soveel beter.
Siektetekens:
1. Lusteloosheid
2. Verlies aan eetlus
Fisiese tekens:
3. Bleek oogslymvliese
4. Bleek gryswit tandvleise
Karakter van bosluiskoors
1. Bosluiskoors parasiete (Babesia) se lewensiklus in die bloedstroom van honde is soortgelyk aan dié van malaria parasiete (Plasmodium) wat in mense voorkom.
2. Albei parasiete is protosoa, wat iets anders is as virusse of bakterieё.
3. Sommige bosluiskoors pasiënte ontwikkel gekompliseerde bosluiskoors waar organe soos die hart, niere, longe, lewer, maag en ingewande asook brein aangetas word.
4. Hierdie komplikasies ontwikkel as gevolg van toksiese stowwe, ook bekend as Oplosbare Parasiet Antigene (OPAs), wat deur die Babesia parasiet afgeskei word.
5. In die Literatuur is dit opgeteken dat tot 12% van hierdie honde pasiënte vrek en ‘n verdere 2%-3% moet uiteindelik uitgesit word.
Simptome
Die simptome wat honde ervaar, is soortgelyk aan dié van mense met malaria. Bosluiskoors is daarom ‘n dodelike siekte wat nie ligtelik opgeneem moet word nie. As honde kon praat, sou hulle waarskynlik getuig van geweldige hoofpyne wat, soos in die geval van mense met malaria, voorkom.
1. Die eerste simptoom van bosluiskoors is lusteloosheid
2. Dit kan met of sonder aptytsverlies gepaardgaan
3. Koors (meer as 39°C) kom in die meeste gevalle voor
4. Die hond kry warm en haal swaar asem of hyg
5. Slaap te veel
Gevolge
1. Die hond het bogenoemde simptome omdat die Babesia parasiet die rooibloedliggaampies vernietig.
2. Rooibloedliggaampies vervoer belangrike voedingstowwe en, nog meer belangrik, suurstof na belangrike liggaamsdele en weefsels toe.
3. Wanneer bloedarmoede duidelik word deur bleek tandvleise en oogslymvliese is dit ’n teken dat daar ’n oormatige afbreking van rooibloedselle was.
4. Dan is dit is byna onafwendbaar dat ’n bloedoortapping as deel van die behandeling in hierdie stadium benodig word om die dier se lewe te red.
Diagnose
1. Die diagnose van bosluiskoors word gemaak deur ’n bloedsmeer onder 1,000 keer vergroting onder ’n mikroskoop te ondersoek.
2. Dit is noodsaaklik om te weet dat bosluiskoors ook saam met nog ‘n bosluisgedraagde siekte, bosluisbytkoors, voorkom.
3. Beide siektes toon dieselfde simptome maar die behandeling daarvan verskil wesenlik.
Wat doen die parasiet in die bloedstroom?
1. Soos die malaria parasiet in mense, doen die bosluiskoors parasiet sy selverdeling in die rooibloedselle.
2. Wanneer hierdie parasiete die dooie rooibloedsel verlaat, val die nuwe generasie parasiete wat in die selverdeling ontstaan het, nuwe rooibloedselle aan.
3. Die verdelingsproses is nie eenvorming of vind nie ewe vinnig plaas nie.
4. Die ontwikkeling van bosluiskoors wissel en is op sy beste onvoorspelbaar.
5. In sommige gevalle is dit stadig (weke lank) terwyl dit in ander gevalle ure tot dae kan verloop.
6. Dit is dus belangrik dat die eienaar van ‘n hond baie bewus moet wees van sy hond se gedrag en die simptome van bosluiskoors.
7. Dit is baie belangrik dat ‘n kundige persoon ’n akkurate diagnose maak sodat die korrekte behandeling kan plaasvind.
Behandeling
1. Die behandeling van bosluiskoors behels onder meer die toediening van ’n middel wat die parasiet doodmaak.
2. In nie-gekompliseerde gevalle word n hond behandel met anti-protozoïese middels soos Veriban, Berenil RTU of Forray 65.
3. Die dosis word gemaak op grond van die hond se gewig en dit moet baie akkuraat wees, aangesien oordosering nier- en/of breinskade tot gevolg sal hê.
4. Saam met hierdie behandeling is ondersteunende behandeling uiters noodsaaklik - veral in gevorderde gevalle.
Skade van bosluiskoors
1. Sou die Babesia parasiet swaar besmetting veroorsaak het, kan dele van die afgestorwe parasiete in die bloedstroom ná behandeling orgaanskade veroorsaak.
2. Orgaanskade kom voor as die filtreervermoë van die niere misluk omdat daar te veel dooie parasiete is wat uit die stelsel gefiltreer moet word.
3. Die lewer sal ook oorlaai word met galpigment.
4. Die tandvleise en oogslymvliese van honde wat swaar bosluiskoors beleef het, sal ná behandeling van swaar bosluiskoors besmettings dikwels geel vertoon, wat die naam van bosluisgalsiek verduidelik, want die hond het dus geelsug.
5. Soms veroorsaak die bosluiskoors organisme dat die rooibloedselle taai en klewerig word en klein bloedklontjies vorm.
6. Wanneer dit in die haarvate van die brein plaasvind, veroorsaak bosluiskoors senuwee-simptome by ‘n dier wat vergelyk met beroerte by mense.
7. Honde met bosluiskoors ervaar ‘n erge glukose tekort, dus te min energie.
8. Om bosluiskoors behandeling te laat slaag is dit van uiterste belang om toe te sien dat die dier nie ontwater nie.
9. Die belangrikste bydrae wat die honde-eienaar kan lewer om die behandeling te laat slaag, is om toe te sien dat die hond so gou moontlik weer begin eet.
10. Heuning, glukose in die drinkwater en Energade energie koeldrank (slegs naartjie geur wat ook elektroliete bevat) kan met ‘n klein spuit in die mond toegedien word.
11. Marmite water en/of Oxo, flou opgelos (teelepel op koppie kookwater) en ook met ‘n spuit toegedien word met kort tussenposes sal help dat urienvloei verseker word, wat die uitskeiding van afval afkomstig van die rooibloedselle sal bewerkstellig.
Voorkomende behandeling
’n Entstof Nobivac teen bosluiskoors is nou beskikbaar. Doen dit veral in situasies waar bosluiskoors herhaaldelik by ’n dier voorkom, waar bosluis bekamping moeilik is en waar honde nooit aan bosluise blootgestel is nie, maar dan skielik verskuif word na ’n omgewing waar daar wel bosluise voorkom.
Beheermetodes: Dipmiddels, halsbande, sjampoes, poeiers.
Pierre van Niekerk © 2015
 
 
.