Your browser version is outdated. We recommend that you update your browser to the latest version.

SNUFFELS

 SNUFFELS BY KATTE
Dis die algemene naam vir aansteeklike asemhalingsiektes (verkoue, konjunktivitis, boonste lugweg infeksie) by katte. Die simptome word deur 'n verskeidenheid van virusse veroorsaak, waarvan die Feline Herpes-virus (nie dieselfde een wat mense aantas nie) die groot oorsaak is van Snuffels en kan groot ulkusse in die oë en slymvliese van katte veroorsaak. 'n Inenting daarteen is beskikbaar en dit moet jaarliks toegedien word as jy seker wil wees dat jou kat gesond bly, veral in die geval van opregte katte soos Siamees en Persies. Doen spesifiek navraag oor die inenting.
Simptome
• Die siekte begin gewoonlik vinnig en duur twee tot vier weke. Die graad varieer van net 'n bietjie nies en seer oë tot dodelike longontsteking.
• Die koors is gewoonlik hoog, maar dit kan wissel.
• Die oë traan of kan selfs etterig wees. By jong katjies kan die konjunktivitis só erg wees dat hul oë heeltemal toegegom is met etter.
• In sommige gevalle kan volwasse katte sinusitis kry wat maande of jare daarna probleme veroorsaak.
• In ligte gevalle behou die kat sy eetlus. As hy ophou om te eet is dit baie belangrik om hom so gou moontlik veearts toe te neem vir behandeling.
Behandeling
• Die siekte is hoogs aansteeklik en die meeste goeie veeartse sal nie so 'n geval in hul hospitaal opneem nie. Jy sal dus elke dag moet teruggaan vir inspuitings.
• Katte wat weier om te eet, kan dehidreer en doodgaan as gevolg van nierversaking. Mediese behandeling is noodsaaklik in hierdie gevalle.
• As jou kat kwaai nies, maar nog eet en gesond lyk, kan jy stoom gebruik, net soos jy met babas doen, om die lugweë te laat ooptrek.
• Jy kan ook sy dosis vitamien A verhoog deur hom 'n paar druppels lewertraanolie te gee of 'n halwe bak gaar hoenderlewers te voer. Maar pas op vir te veel vitamien A, dit kan dodelik wees vir 'n kat.
• FELISINE is ook ‘n immuniteit “booster paste” vir katte wat die Feline Herpes virus het, en kan as ‘n daaglikse aanvulling gegee word (beskikbaar by veeartse).
Eetlus aan te help
• Cipla Actin (goedkoop by enige apteek en sonder voorskrif) is 'n anti-histamien vir mense maar gee diere 'n eetlus. Ongeveer 'n halwe tablet per 5 kg. Veearts sal dit aanbeveel.
• Die meeste diere is mal oor Animal Shake en hulle eet al hul kos op as daar Animal Shake oor gestrooi is. Blue Liquid is ‘n baie goeie vitamienaanvulling vir siek en herstellende diere (beskikbaar by troeteldierwinkels, supermarkte en Dischem se diere-afdeling – kan ook Efazol gebruik).
• Vir ‘n kat wat siek is en nie wil eet nie – smeer die medisyne net aan sy pels. Hul lek dit gewoonlik self af en kry dit sodoende in.
Pierre van Niekerk (c) 2016
 
 
.