Dit kom normaal in nie-gesteriliseerde tewe binne 6 tot 12 weke na estrus voor.
Estrus is die gedeelte van die teef se estrussiklus waar sy die reun toelaat om haar te dek, die vulva geswel is en daar ‘n strooikleurige vaginale afskeiding is. Die tekens van skyndragtigheid kan wissel in intensiteit en kan enige iets van buikuitsetting en vergrote melkkliere met melkproduksie tot nabootsing van baring en soging insluit.
In meeste tewe is skyndragtigheid egter mildelik en hulle herstel sonder enige behandeling binne ‘n paar (1 tot 3) weke. Sekondêre mastitis (inflammasie van die melkklier(e)) kan ontstaan as gevolg van melkstase (die afwesigheid van melkvloei weens die afwesigheid van klein hondjies wat aan die teef drink).
Tekens van mastitis sluit in: warm, rooi, seer en vergrote melkkliere; melk wat dikker as normaal is met ‘n abnormale kleur; koors; aptytverlies; lusteloosheid. Gevalle waar tewe erge tekens toon van skyndragtigheid of waar sekondêre mastitis teenwoordig is, moet die teef na u veearts geneem word vir behandeling.
Daar is verskeie hormoonbehandelings beskikbaar vir skyndragtigheid, maar daar is verskeie newe effekte wat met die behandeling gepaard gaan. In tewe wat dus herhaaldelik erge tekens van skyndragtigheid toon na elke estrus, word sterilisasie aanbeveel.
Verwysings:
1. Ettinger S J & Feldman E C. 2000. Textbook of Veterinary Internal Medicine. W.B. Saunders Company, USA
2. Ptaszynska M. 2006. Compendium of animal reproduction 9th Edition, Intervet International bv
Geskryf deur: Dr Sunelle Strydom (BVSc)