Dr C N Sparks BVSc
1. INLEIDING
Jy kom tuis na ‘n dag se werk, skop jou skoene uit en plak jou neer op die rusbank. Mitzi, jou gunsteling brakkie, wat jou in die huis in gevolg het, spring op jou skoot met stert wat wild swaai en druk haar neus in jou gesig om hallo te sê. Jy is baie, baie lief vir haar en gee normaalweg nie om nie, maar daar is ‘n probleem — die juffer het die asem van ‘n draak wat nou net iets allemintig vrot verorber het. Mitzi word vriendelik die deur gewys en jou aptyt is sommer daarmee heen.
Slegte asem is een van die algemeenste probleme van honde en katte. Hoewel ‘n klein persentasie van diere vanweë geen oënskynlike rede slegte asem toon, het die meeste diere wat daaraan ly een of ander tand- of mediese probleem. Nierversaking, diabetes en mangelontsteking is van die moontlike mediese oorsake daarvan. Die meeste gevalle word egter deur onderliggende tandprobleme veroorsaak en dit is daaroor wat hierdie artikel handel.
2. PERIODONTALE SIEKTE
Tot 85% van honde ouer as vier jaar het een of ander tandverwante probleme. Die algemeenste van hierdie probleme is periodontale siekte. Dit behels inflammasie van die ligamente wat die tand in die tandkas anker. Die oorsaak daarvan is plaak wat op die tandemalje aansamel en geleidelik omgeskakel word in tandsteen. Tandsteen bestaan uit ‘n mengsel van mineraalafsettings en bakterieë wat ‘n harde dop buite-om die tand vorm.
Tandsteen kan ook langs die nek van die tand afskuif, die tandvleis wegskuif en so die tand laat losraak. Dit lei tot infeksie van die tandvleise en is die nommer een oorsaak van slegte asem in diere wat nie net onaangenaam vir die eienaar is nie, maar ook skadelik vir die dier se gesondheid kan wees. In ernstige gevalle kan die infeksie vanaf die tandvleis deur die bloedstroom versprei na ander organe soos die niere, lewer en selfs die hart. Periodontale siekte is meer algemeen in ouer diere, maar kan ‘n probleem in jonger diere wees, veral in sekere rasse soos Yorkshire Terriers, Miniatuur Worshonde en Maltese Poedels.
3. ANDER TANDPROBLEME
Ander tandprobleme wat mag voorkom is tandfrakture, verslete tande en tandwortelabsesse. Frakture is meer algemeen in honde en word gewoonlik veroorsaak deurdat hulle aan harde voorwerpe soos klippe en bene kou, gevegte met ander honde en motorongelukke. Absesse word gevorm wanneer die pulpholte blootgestel raak weens verslete of gebreekte tande. Die infeksie versprei deur die pulpholte en wortelkanaal na die punt van die tand waar die abses tussen die wortel en die omliggende been gevorm word. Dit is gewoonlik ‘n baie pynlike toestand en mag sigbare swelsel van die dier se gesig of kaak veroorsaak.
4. SIMPTOME
Tekens van tandprobleme in diere sluit die volgende in:
• Slegte asem.
• Diere kou moeilik, of kou net aan die een kant.
• Diere krap of vryf hul gesigte.
• Diere eet slegs sagte kos of weier om te eet.
• Verkleuring van die tande.
• Bloeiende tandvleis.
• Los tande (Mag normaal wees in jong diere — hulle wissel tande tussen vier en ses maande).
5. BEHANDELING
Indien enige van die bogemelde tekens aanwesig is, sal dit raadsaam wees om die dier na u naaste veearts te neem vir ‘n behoorlike ondersoek. Tandsteen kan slegs verwyder word onder narkose d.m.v. ultrasoniese skalering. Dit word gevolg deur polering van die tande om verdere opbou van tandsteen te verhoed. Gebreekte tande moet òf getrek word òf verwys word na ‘n spesialis vir wortelkanaalbehandeling.
6. VOORKOMING
Daar is verskeie produkte beskikbaar om die aansameling van plaak en tandsteen te voorkom. Praat gerus met u veearts daaroor. Sekere troeteldierkosse is spesiaal geformuleer om plaakaansameling te voorkom. Daar is ook ‘n verskeidenheid kouspeelgoed en ander koubare produkte sowel as tandepasta en tandeborsels vir troeteldiere beskikbaar. Die voer van groot bene sal help om die tande skoon te hou, maar dit mag lei tot probleme soos konstipasie, verstikking en gebreekte tande. Wees baie versigtig!!! Moenie vir honde lekkernye soos lekkers en koekies gee nie. In sekere rasse soos Yorkies kan die melktande agterbly wat veroorsaak dat stukkies kos en hare daartussen vassteek en later probleme skep. Hierdie tande moet onder narkose getrek word.
Onthou: Voorkoming is altyd die beste!!
Dokument opgestel deur en eiendom van Pierre van Niekerk © 2015