Your browser version is outdated. We recommend that you update your browser to the latest version.

AGRESSIE by HONDE
deur Karin Delport
Na aanleiding van baie vrae wat gevra is, het ek dit nodig geag om hierdie plasing te doen.  Ek wil dit net vir almal op die hart druk dat dit nie die gewenste manier is om ‘n situasie te hanteer nie en beveel dit ten sterkste aan dat ‘n honde gedragskenner eerder ingeroep word!  Honde gedragskenners het ‘ter plaatse’ die vermoë om die omstandighede baie beter op te som en reaksies (van die hond sowel as die ander gesinslede) te evalueer!  
Net eers bietjie inligting wat leersaam is!  Ons as mens moet altyd in gedagte hou dat honde nog steeds diere is met instink en al is hul deel van ons gesinne, moet hul respek vir die mens hê soos ons vir hul moet hê as ‘n dier!  Soos ons met ‘n hond speel as baba, is hoe hy gaan speel/byt as hy groot is!  In die trop speel hulle en leer mekaar se “soft spots” so hul doen dit nog steeds wanneer hul groot is.  Maar, oor die grootmaak van veral groot ras honde later!  
Die probleem wat ons nou baie kry op die blad is reeds volwasse honde wat probleme veroorsaak!  Ek wil dit beklemtoon dat ons moet dink soos ‘n hond in ‘n trop en NIE verwag dat die hond moet dink soos ‘n mens nie!  Soveel as wat ons dit wil hê, is dit nie moontlik nie en as daar meer as een hond is, vorm hulle makliker ‘n trop omdat hulle heeldag bymekaar is!  Hulle reageer op instink en dinge wat hul geleer het tydens die grootmaak proses.  Goeie voorbeelde van tropgedrag – meerkatte is seker die tropdiere wat hul hiërargie die beste intakt hou.  En olifante – wow, hul is uitstekend!  Ek sal die gedrag verduidelik saam met hoe dit toegepas moet word in gesinsverband.  
1. Die leier eet eerste!  As jy bv. ‘n bak kos neersit waar daar meer as een hond is, sal jou tropleier eerste eet en eet soveel as wat hy wil.  Hy het nie ‘n saak of hy als opeet of nie!  Het nie gewete nie, nie ‘n saak of daar oorbly vir die res nie!  Die wat dit waag om nader te kom sal weg gegrom word en indien nie padgee nie, weg gebyt word!  Daarom is dit so baie belangrik om kinders te leer om nie by honde se kos te pla nie!  Jou kind is gewoond om by jul hond se kos te gaan, nou nader hy die vriende se hond se kosbak en word gebyt!  Nie die hond se skuld nie (die kind is nie deel van ‘n ander hond se hiërargie nie).  Dus, leer jou kind by die huis!  Voor jy die kos neersit, maak of jy uit sy bak eet, DUS JY EET EERSTE!  Die ideaal is dat die hele gesin eet en wanneer die borde in die wasbak gesit word, kry die honde kos - in die volgorde van hul range!  Onthou jou klein ras hond kan nie die tropleier wees nie!
2. Die leier besit al die speelgoed ens. wat gegee word!  Dus die leier sal die speelgoed (bv. bal) eerste vat en die res weg grom of byt!  Baie gevegte onder honde begin met iets so simpel soos ‘n bal!  Jy en die gesin moet altyd in beheer wees van al die speelgoed en julle stop ook die spel, moenie wag dat die hond bv. die bal ens. vat en daarmee gaan lê en vir homself toe-eien nie!  Daar word gespeel vir, sê, 5 minute, dan word die spel gestop om na iets anders aan te beweeg.  Geen “tug-of-war” toutrek spel word met ‘n groot ras hond gespeel nie - tensy jy seker maak dat jy altyd die spel wen en beheer van die speelding terugkry!  Terwyl jul speel word jy as teenstander mooi opgesom, jou kragte word bepaal en vasgebrand in sy brein!  Die dag met ‘n konfrontasie weet hy presies hoe sterk jy is en waar jou swak punte is en sal reguit gaan daarvoor!
3. Die leier slaap op die beste plek!  Jy as leier slaap op die bed, dus sal die dominante hond ook daar wil slaap!  Ek stel voor dat al die honde op die vloer in hul mandjie slaap - nie die klein ras op die bed en die groot ras op die vloer nie!  Jy skep ‘n rede vir die groot ras hond om die kleintjie te byt!  ‘n Hond wat vir homself ‘n bed toegeëien het sal selfs ‘n klein kind wat naby ‘sy’ bed kom, byt!  Dus hy besit ook nie die bed nie!  As jy regtig ‘n baie dominante hond het, dan verwyder jy al die honde uit jou slaapkamer, soos in ‘n ander vertrek of tot voor jou deur!  Jul het seker agterkom ek praat nie van buite nie - jou hond hoort in jou huis, hy kan jou nie van buite die huis beskerm nie!
4. Die leier sal na die ander honde gaan en vra om ge”groom“ (gelek) te word.  Indien ‘n ander hond sy persoonlike spasie inkom sonder sy toestemming sal hy grom of hap!  Hy sal sy neus onder jou hand kom indruk sodat jy hom kan vryf - ons vryf hul outomaties en net daar domineer hy jou - so hy is jou baas!  Jy as eienaar moet die dominante een wees!  Dus as hy kom aandag vra moet jy hom ignoreer!  Soveel dat jy vou jou arms en kyk weg!  Ignoreer hom heeltemal; hy gaan heel moontlik sy poot op jou sit en jou hand probeer nader krap sodat jy sy kop kan krap!  Moet nie vir hom kyk nie!  Hy gaan vir jou ‘n puppy face gooi en jy gaan sag word (veral die vroue, ons is ‘suckers’ vir ‘puppy faces’!).  Jy kan so ver gaan as om op te staan en op ‘n ander plek te gaan sit of selfs net te staan!  As hy die gewoonte het om op jou sitplek te gaan sit die oomblik as jy opstaan, sê hy ook vir jou dat hy baie dominant is!  As hy grom as jy hom wil af vat, het jy moeilikheid met ‘n groot ras!  Dus jy moet sorg dat hy ‘n band met ‘n lang tou om die nek het sodat jy hom daar kan aftrek, sonder om met hom te praat en met jou rug na hom toe!  Moenie oog kontak maak nie!
5. Die leier is die “first line of defence”!  Al wat dit beteken, is wanneer die trop aangeval word, is die tropleier voor!  Hy neem die leiding en begin die aanval!  Gaan jou hond mal voor die deur en hou al die ander honde weg van die deur en probeer selfs vir jou weghou van die deur af, is dit jou teken dat daar ‘n probleem kan ontstaan - hy kan jou voor die deur byt of as jy die deur oopmaak, byt wie ook al aan die ander kant is!  Dis hier waar opleiding so belangrik is om vir jou hond te kan sê BLY!  Sit weer die band met ‘n lang tou aan en oefen dit.  Jou hond loop nooit voor jou by ‘n deur uit nie!  As dit ‘n baie groot swaar hond is, laat iemand jou help deur hom terug te hou dat jy eerste loop!  Onthou om hom te prys vir die aksie!  Onthou asb. om die ander onderdanige honde weg te hou, hul moet asseblief nie voor hom uit hardloop nie!  Dan gee jy die indruk dat jy hul hoër ag as hy!  As jy alleen is, oefen dit deur hom te blok om nie verby jou te loop nie!
Weereens wil ek jul vra - indien jul sit met ‘n dominante, aggressiewe hond - veral die groot rasse - om eerder ‘n professionele persoon se hulp in te roep!  Nooit ooit word daar aan ‘n hond geslaan nie - agressie maak agressie wakker!  Kry vir jou ‘n waterbottel wat spuit, nie sproei nie, om enige wangedrag mee te hanteer – geen geslanery nie, maar ferm optrede.
Karin Delport

.